Ek sien elke dag mooi. (“Beauty” is eintlik ‘n mooier woord vir mooi maar mooi is ook mooi). Ek sien mooi in die suikerbekkie wat lemmetjieboombloeisels soek. Ek sien ook mooi in ons babakatjie se glimlag as sy in die boom sit en ek sien mooi in my man wat voor die stoof staan en nuwe disse probeer. Ek sien mooi in jong liefde wat iets vertel van sielsmaats en ek sien mooi in my vriendin se blouste blou oë.

Ek hoor ook elke dag mooi. Ek hoor dit in die gelag van jongmense om my. Ek hoor dit in musiek wat speel. Ek hoor dit in stilte en ek hoor dit in die “chimes” wat hang aan my bome.

Ek proe mooi in die pienk pomelo vir ontbyt, en ek proe dit in my gunsteling rooiwyn. Ek proe ook mooi as my man my soen en ek proe dit as varsgemaalde bitter koffie my van binne-af warm maak.

Ek ruik mooi in die Sederberge se vroeg-oggend lug, en ek ruik dit in die aansteek van die kaggelvuur. Ek ruik dit in my eie lyfroom en ook in die varsgemaalde peper en koljander vir Sondag-middag se ribbetjie braai.

En dan voel ek mooi. Ek voel dit in arms om my lyf, in viool klanke wat my laat huil, in hitte van die warmwatersak wat my meisiekind in my bed gesit het en in die warm lyfie van my steekhaarbrakkie. In vroeg-oggend ryp en in die son wat ‘n streep oor my gunsteling stoel val. Ek voel dit in familiefotos en in die lag van my kinders. Ek voel dit in pienk tee saam met ‘n vriendin en ek voel dit in ‘n grys kombers van my oudse seun. Ek voel dit ook in klippies wat met sorg opgetel is sodat dit ‘n present kan word vir iemand en ek voel dit in warm pantoffels as dit koud is. Ek voel dit in my gunsteling “song” en ek voel dit in mense wat omgee se woorde. Ek voel dit in die sonsondergang en ek voel dit as ek die see ruik. Ek voel dit in die omslag van ‘n boek op my bedkassie en ek voel dit in in my hart as ek bly is en hoop het.

Ek dink mooi is in en om ons almal. Maar ons moet moeite doen om dit te sien … en te ruik … en te proe … en te hoor. En dan moet ons dit voel, sodat ons dit kan gee, en sodat ons dit kan wees …

Oor jouself:

Om regtig te ‘wees’, moet jy al jou sintuie gebruik. Hoe kan jy dit doen?

©Liesl