‘n Swartbord in ‘n spens is meestal daar vir lysies, vir bestandele wat opraak. Aan die begin van die jaar begin dit met ‘n splinternuwe opskrif, 2016 se lysies. Daarna volg bietjie lysie dinge, en dan bly die bord skoon, want lysies word sommer op stukkies papier geskryf en weer vergeet. Totdat iemand in die gesin besluit swartborde is ook daar om mooi dinge wat jy raaklees, te deel met die res wat inloer in die spens. Dinge soos “Your mind is a garden, your thoughts are seeds, you can grow flowers, or you can grow weeds …” , begin op die bord pryk. Iets oor pynappels wat regop moet staan en krone moet dra volg daarop en iemand anders sien die kleure van herfs raak wat klop in ‘n mens se are. So raak die bord al hoe voller, en mens se gemoed ook, want dit wat jy daarop lees, is mooi, en die verskillende handskrifte ook. Dit sê iets oor elkeen se hart.

Daar is nog een klein blokkie oop aan die onderkant van die bord, en ek dink ek gaan daar skryf: “Ek is elke dag dankbaar, want ek weet, dat my kinders weet, dat iets moois om te lees, is belangriker as lysies …”

Oor jouself:
Hoe motiveer jy ander?