Oral waar ‘n mens gaan is prentjies. Prentjies in Afrikaans, en prentjies in Engels. Prentjies in kleur, en prentjies sonder kleur. Vinnige prentjies, en prentjies wat tyd neem.

‘n Seegroen huisie in ‘n veld met ‘n stil trekker wat eenkant staan. ‘n Skaaphond agter op ‘n bakkie wat die aanjaagskape angstig dophou. Geel ‘canola’ lande en donkberblou reënwolke. ‘n Mamma met ‘n toedraai baba op haar rug. Die son op die telefoonlyn al langs die groen koringland. Splinternuwe wit skapies wat heen en weer hardloop. ‘n Visskieter in ‘n rooi ‘wet-suit’ met vet rooi-rooi visse aan ‘n string. ‘n Doodvreet slaghuis en ‘n Goukyk TV winkel. ‘n Bordjie met die naam Vaalplaas, terwyl die plaas eintlik grasgroen is.

Ek verstaan skielik die ‘road-trip’ musiek as Die Heuwels Fantasties sing dat ‘n mens nie ‘n kredietkaart nodig het nie en Jack Parow kla dat ons briewe vir mekaar skryf maar niemand lees dit nie … Want prentjies om ons kos nie iets nie. En om alles neer te skryf wat ons sien, ook nie. Mense moet net kyk, en mense moet lees.

“Ek wens ek kon al die prentjies wat ek sien ‘print’”,sê ek vir iemand naby , en met groot wysheid, vir jong jare, sê hy vir my: “Soms sien mens prentjies om jouself te ‘bless’, nie ander nie …”.

En ek sien dit nou … baie seëninge, orals, in prentjies, net vir my …

©Liesl