Ek drink gemmertee op ‘n vriendin se stoep.  Lekker sterk gemmertee, wat jou keel so bietjie brand as jy dit drink.  Die brand voel eintlik bekend, want deesdae brand my keel gereeld, van té veel ingehoude trane oor kinders se klaarmaak met skooldinge, en oor kwesbaar wees oor die draai van die lewe.  “Ons almal wil graag sterk en in beheer wees”, sê sy, “maar dit is waarvoor ware vriende daar is – om saam te vlieg as dit goed gaan en om ons vlerke te wees as ons swak is.  Om ‘n mens se siel uit te dop laat jou weerloos, maar dis terselfdertyd die dapperste ding om te doen.  En soms nodig.”

As ‘coach’ weet ek hierdie dinge – en ek beveel dit aan vir ander, maar dit raak moeilik as dit oor jouself gaan.  Miskien leer ek dit sodat ek dié wat in my ‘coaching-space’ sit, beter kan verstaan.  Sodat ek beter kan sê hoe om te maak met hierdie siel-uitdop-ding.

“Ek het altyd tee”, sê sy, en ek is bly, want ek weet, gemmertee gee my vlerke.

©Liesl