Dis baie lekker as jou kinders kan bestuur. Effense spanning as hulle met jou eie pragtige rooi feetjie ry, maar heeltemal ontspannend as hulle met hul eie studente blou “Suzi” ry. Die lekkerste van hierdie blou karretjie, is die kunsleer sitplekke wat lekker warmgebak en sag is as Suzi in die son staan. Dan kan ‘n mens maar net inklim en wip wip en knus, saamry, terwyl kinders dink oor padreëls en ander mense wat nie kan bestuur nie. ‘n Mens sien baie dinge as jy nie hoef te bestuur nie, jonges en oues wat oefen, ander wat dink hulle oefen, koeie wat gemaklik in dorspgebied eet aan grasgroen gras, honde en kinders wat baljaar, nuwe huise wat aan die bou is en ‘n skoon Tafelberg teen blou lug.

“Ek wil graag nou reg wees om ook my stuurwiel van die lewe af te gee”, dink ek, sodat Iemand Anders eerder kan bestuur. Sodat ek sag en warm kan sit en dinge kan raaksien wat nog die hele tyd daar is, maar wat ek nie sien nie, omdat ek te bekommerd is oor al die ander wat nie kan bestuur nie. Die grootste uitdaging net is, om nie weer self agter die “stuurwiel” in te klim nie … want ek doen dit graag … en dan raak ek baie moeg, en mis ek dinge.

©Liesl