‘n Vriendin nooi my vir middagete en ek dink eers daaraan om nee te sê. Sy gaan my vra hoe dit met my gaan en ek voel nie lus om daardie vraag te antwoord nie. Dit laat my huil en dan voel ek simpel.

Ons kuier baie lank en sy vertel my allerhande stories. Stories van haar lewe en stories van ander se lewens, alles stories wat my beter laat voel en my bly maak dat ek ja gesê het. ‘n Balonne storie is my gunsteling. Dit gaan oor helium matriekafskeid balonne wat per ongeluk, op die verkeerde oomblik, vrygelaat is. Oor ‘n eenvoudig eerlike gebed dat niemand asseblief moet hartseer wees oor hierdie glips nie. Oor dieselfde balonne wat sonder veel bravade raakgevat word deur iemand wat weet aan wie dit behoort en oor ‘n opregte, seker stelling, dat dit net die Here is wat helium balonne kan terugbring.  Ek dink ek moes vandag hoor oor balonne, sodat my geloof weer sterk kan raak en sodat ek nie so baie kere simpel voel nie.

Sy het my toe nooit gevra hoe dit gaan nie. Sy het net vir my ‘n seegroen en ‘n pers pen gegee as present. “Sodat jy in jou joernaal kan skryf”, sê sy … en ek skryf, want dit help, net soos stories.

©Liesl