‘n Kat met diarieë is ‘n onaangename ding, veral as die sandbak vergete buite in die braai staan om son te kry – al is dit aand.  Met Lea-katjie wat allerhande vreemde gediertes die huis inbring, is kat diarieë seker nie vreemd nie, want sedert sy ernstig aangespreek word oor die prooie wat sy in die huis inbring, eet sy nou seker die arme diertjies buite op … van daaraf die omgekrapte maag.  Omdat Lea-katjie nie die mamma van die huis se kat is nie (sy is net die mamma van die huis se kat as sy liefdevol en skoon op die mamma se skoot kan lê), moet die mooi blonde jongman – wie se kat dit eintlik is, dus die gemors onder die mamma se lessenaar skoonmaak – dis nou omdat die sandbak buite in die braai staan …  “Gee dan vir my handskoene!”, beveel hy, en “waar is die seep?”, vra hy onthuts, en “ek wil noú weet wat met haar aangaan – sy kom hoesend en proesend in my kamer in!” lewer hy verder kommentaar.  Ek sou ook gehoes en geproes het as ek myself moes skoonlek na so ‘n storie – dink ek in my enigheid.

Maar vanoggend lê Lea-katjie silwerskoon op ons wit beddegoed (wat in die nag nuut oorgetrek moes word omdat sy heel eerste by die mamma van die huis besoek kom aflê het oor die sandbak nie te vinde was nie) en almal wonder wat nou eintlik in die nag gebeur het … Ek weet ook nie regtig nie, ek weet net, ek soek ook handskoene en seep om die lewe se ‘twak’ aan te vat… sodat ek silwerskoon op wit beddegoed kan lê, sonder enige beswaardheid, en sodat ek nie hoef te wonder hoekom ek so hoes en proes nie …

©Liesl

 

Ontmoet vir Lea die liefie katjie …