Vandag is ek 25 jaar getroud, met my hoërskoolliefde, en ons ken mekaar vandat ek 14 jaar oud is.

Hulle sê, as jy 25 jaar getroud is, dan gee jy silwer vir mekaar, maar hierdie jaar kan ons nie silwer gee nie, want ons sente is op.  As ‘n mens se sente opraak, sonder dat jy dit kan keer, dan moet jy baie kreatief dink, oor huweliksherdenkings, en oor presente, en oor kamp …

Met bietjie sente wat ons present gekry het by SARS, beplan ons ons jaarlikse Desember Sederberge vakansie (SARS skuld ons nog geld, maar hulle probeer dit so moeilik as moontlik maak voordat ons dit kan terugkry).  Ek is redelik moedeloos, want ek is vies vir SARS (vies is ‘n baie mooi woord vir hoe ek eintlik voel), en ek hou nie baie van pak vir kamp nie.  Van vooruit dink, oor wat ek gaan aantrek en wat ek gaan eet oor ‘n week, hou ek nog minder en ek dink eintlik dit sal wonderlik wees as ek net kan aankom in die Sederberge, by ‘n klaar opgeslaande kamp, met al my kos en al my klere, en alles waarvan ek vergeet het, klaar daar en klaar uitgepak.

En toe besluit my man, van 25 jaar, om vir my ‘n ‘silwer’ present te gee.  Die present is ‘n baie mooi brief, toegedraai in ‘n silwer strook foelie (vir 25 jaar) en dit sê:  “Vyf-en-twintig jaar!  Vir my is jy nog steeds my meisie … al is dit ons silwer huweliksherdenking vandag.  Die mooi meisie in matriek met die lang blonde hare wat net al hoe ligter geword het in die son, is vandag nog vir my net so mooi met steeds silwer ‘highlights’ in die hare.  En vandag is jou jongstes pas klaar met matriek.

Daar het darem baie wysheid bygekom met die jare.  Dis nou natuurlik by my.  So weet ek jy hou niks van pak nie.  Ek dink by myself dat dit nie regtig oor die pak is nie maar oor die onsekerheid oor wat om in te pak.  Hoe moet jy nou weet wat jy Dinsdagoggend volgende week wil aantrek by die kamp?  Gaan dit warm wees?  Wie gaan daar wees en hoe gaan jy voel?  Jy haat dit om te voorspel wat jy gaan aantrek en eet ‘n week vooruit.  Maar daar is nie ‘n Langverwacht Shoprite in die Sederberge nie en daar is geen ander uitweg as om ‘n week voor die tyd al die besluite rondom kos en klere te neem nie.

So sit ek en jy gisteraand dus en voorspel volgende week se spyskaart.  En dit gaan bietjie moeilik.  Dis nou, dink ek weer by myself, dat jy ‘n week voor die tyd al die kos bestandele moet uitdink sodat dit gekoop en gepak kan word of miskien is dit omdat jy ook terselfdetyd aandete voorberei.  Hoe dit ook al sy, ek is seker jy het ‘n Deense oupa of ouma lank terug gehad.  Jou nooiensvan wil wys dat jy Nedelandse voorsate het, maar dit is net om ons deurmekaar te maak.  Sien, die Dene het ‘n ou gesegde wat sê ‘… voorspelling is moeilik, veral as dit oor die toekoms gaan’ … en dis moeilik vir jou.

So!  Om ‘n silwer randjie om jou donker wolkie te gee, het ek die spyskaart vir die aand-etes uitgetik met al die bestandele daarby, vir die hele week wat ons in die berge is.  Jy kan dit nou doodkrap soos jy dit koop.  Ek sal help pak.”

Ek gee vir my man sy gunsteling Lindt sjokalade – sonder die buitekant wat sê wat se soort dit is – sodat hy sjokalade kan kry, in silwer toegedraai, vir 25 jaar.  En ek speel vir hom ‘I can’t help falling in love with you’, van ‘Twenty One Pilots’  (Elvis sing dit ook mooi).  En ons vier ons 25ste huweliksherdenking, en ons pak vir die Sederberge kamp.  Want die koslysie was ‘n baie groot present, ek het nie nodig gehad om te dink wat se kos om te pak nie..

“Moenie die silwer foelie, om die patats en botterskorsie in die warm-as gaar te maak, vergeet nie”, eindig hy sy brief, en ek dink:  “Ek sal nie, want ek weet jy hou baie van patats en botterskorsie, in silwer foelie, en ek maak dit graag vir jou, want ek is baie lief vir jou, nog steeds, na 25 jaar …”.

Ek deel graag die aandete koslysie en bestandele met julle:

 

DAG OP DIE SPYSKAART BESTANDELE
Vrydag Wors met worsbroodjies

(vinnige maklike aand-ete na ry en kamp-opslaan)

·         Wors

·         Worsbroodjies

·         Deeg vir stokbrood

Saterdag Skaaptjoppies met

as-patat

https://kreatiewekosidees.com/2013/04/04/patats-resepte/  en

braai paai https://kreatiewekosidees.com/2013/03/26/kwaai-braai-pie/

·         Skaaptjoppies

·         Klein patats

o   Olywe

o   Maaskaas

·         2 rolle skilferkorsdeeg

o   1 pak spinasie

o   Gesnipperde ham en spek

o   2 soet rissies

o   1 pak sampioene

o   Fetakaas, mozzarellekaas en cheddarkaas

o   Speserye

Sondag Hoenderpot

http://peterjasie.co.za/kamp-potjiekos.html  op cous-cous

·         1 kg hoenderpak

o   250 ml vars room

o   2 groot uie

o   8 meduim aartappels

o   500g gemengde groente pak

o   500ml lemoensap

o   1 pakkie heuning en mosterdsous

·         Cous-cous

Maandag Chinese braai

www.peterjasie.co.za/Kampkosresepte.doc

·         2kg repies varkvleis

o   2kg ‘stir fry’ gevriesde groente

o   ‘n Bottels ‘Sweet & Sour’ sous en sojasous

o   Sout en peper

·         Rys

Dinsdag Skaaptjoppies met

Spekhappies

http://www.foodloversrecipes.com/2015/01/mieliepap-in-streepspek/  en

Braaibroodjies

·         Skaaptjoppies

·         Streepspek

o   Mieliepap

·         Brood

o   Tamatie

o   Kaas

o   Sout en peper

Woensdag Pasta ala Sansha

www.peterjasie.co.za/Kampkosresepte.doc

(Aangepas vir oorslaap in berg. Kos moet op stapstofie vorberei kan word.  1 blikkie van elk vir twee mense per stofie)

·         4 blikkies spaghetti in tamatiesous

·         4 blikkies boeliebief

·         4 blikkies ‘sweetcorn’

Donderdag Cowboy-pot

www.peterjasie.co.za/Kampkosresepte.doc

op roosterbrood

(Terug by kamp na stap –lywe moeg – vinnige en maklike gereg nodig)

·         500gr maalvleis

o   2 eetlepels botter

o   30ml olyf olie

o   2 uie, grof gekap

o   2 pakkies gesnipperde spek

o   2 teelepels gekapte knoffel

o   50ml brandewyn

o   10ml Aromat

o   5ml Swartpeper

o   10ml gedroogte origanum

o   2 blikkies boontjies in tamatiesous

o   1 blik gekapte tamaties met origanum en basieliekruid

o   125ml vars gekapte pietersielie

·         Brood

Vrydag Skaappotjie

www.peterjasie.co.za/Kampkosresepte.doc

op cous-cous

 

·         4 – 5 kg skaapnek / vleisskenkels

·         20 klein uitjies

·         Vars groente :

o   Botterskorsie

o   Baby marrow

o   Wortel

o   Baba geelpampoentjies

o   Baba aartappels

o   Sampioene

·         Sous :

o   5 pakkies soppoeier (chillie beef of bruin uiesop)

o   8 teelepels kerrie

o   Chutney

o   Speserye

·         Cous-cous

Saterdag Hoenderbraai met

Bottersjorsie in foelie en

Asbrood

www.peterjasie.co.za/Kampkosresepte.doc

·         Hoenderstukke

·         Marinade :

o   200ml Old Brown-sjerrie

o   100ml olyfolie

o   1 eetlepel mosterd

o   1 eetleper worcestersous

o   1 eetlepel droë gemende kruie

o   1 teelepel sout

o   ½ teelepel varsgemaalde swartpeper

o   1 ui, fyngekap

o   3 knoffelhuisies, fyngekap

·         Bottershorsie

o   Grondboontjiebotter

o   Heuning

·         Asbrood :

o   750ml bruisbroodmeel

o   250ml witbroodmeel

o   10ml bakpoeier

o   2,5ml sout

o   500ml karringmelk