Swaarkry en broos wees is net soos die velletjie op ‘n beker vla.  ‘n Ongewenste lagie wat ek wil afskep, maar nie kan nie.  Dit klou vas aan die kant van my hart.  En net as ek dink dit is los, dan gly dit terug, en ek moet oor begin.  Ek wil graag weer die lekkerte onder die velletjie proe.  Maar dit bly toe. Met ‘n lagie, van suffering.

Snaaks hoe ons, as ons swaarkry, of dink ons kry swaar, net aan dié swaarte kan dink, en hoe om dit beter te maak. Want dit wíl nie weggaan nie.  En terwyl ons dan wag dat dit sondermeer verdwyn, gaan die dag aan.  En nog ‘n dag en nog ‘n dag.  Ons beur voort.  En ons voel niks nie.  Ons sien ook niks nie, en hoor ook niks nie. Ons gaan stilletjies dood, en vergeet om te kyk.  Alles lyk grys, dieselfde.

Maar dan, op ‘n dag, gly die velletjie af, onverwags en sonder veel pretensie.   En gladde, sonskyngeel soetigheid, loop ongesteurd oor die rand van die beker.   Ek eet poeding, en ek proe die lekkerte.

Iets het verander. Ek weet dit is in hierdie nou.  Iets van lewe, en asem, en groei.  Iets van myself sag vashou en sê dit is OK.  Iets van deursien en nie wegwens nie, van spasie hou, en nie toemaak nie.  ‘n Kalmte uit chaos, lewe uit dood, heel uit stukkend en nuut uit oud. Oorgegee. Elke klein stukkie van my wat breek, weer versigtig aanmekaargesit.  Anders as wat ek dink.  Beter, sterker, mooier. Vol kleur en tekstuur.  Ek word gerestoureer, nét soos Jesaja 54 sê.  Met sierstene herbou. En saffier in my fondamente.  Edelstene teen my mure en vrede by my voordeur.  Tydsaam, solank as wat nodig is.  Noukeurig.

Ek voel iets.   Die son op my rug.  Ek ruik ook iets, die koffie in my beker.  Ek sien, die blou blou van die lug, en ek dink ek hoor, vir Sting sing  – how fragile we are, how fragile we are …