Dis weer die jaarlikse vroue oggend van Stellenbosch Gemeente by Middelvlei  wynlandgoed.  Hierdie jaar is die tema Oestafel.  Van vroegdag af is ons daar om uit te pak en mooi te maak.  Alles met die oog op feesvier na die jaar wat amper verby is en in afwagting van die nuwe jaar wat kom.  Daar is pienk en wit vonkelwyn, aarbeie, brode, smere, olywe, druiwe en kase.  Dit lyk lig en mooi.  Soos fees.

Ek staan stil voor een van die ‘mooimaak’ vlaggies wat effens roer in die wind.  Ek dink dit is opgehang net vir my.  Al die woorde wat met mý hart praat staan daarop.  “Wakker word, stilte, lief, genoeg, oorloop, reis”.

Hierdie jaar was ‘n jaar van wakker word, vir nuwe horisonne, ‘n nuwe storie en nuwe moed.  Dit was ook ‘n stil jaar waarin ek moes klaarmaak met dit wat was en wonder oor dit wat ek droom.  Dit was ‘n jaar waarin ek lief kon ervaar en waarin ek kon leer dat genoeg net is dit wat ek daarvan maak.

Ons drink vonkelwyn en kuier en vier fees.  En nou, nadat almal huis toe is, alles weggepak is en net die kaal tafels en stoele daar staan, weet ek, die jaar was goed.   Ek is dankbaar oor alles wat ek hierdie jaar geleer het.  Oor ‘n reis wat ek onomwonde as moeilik kan verklaar, maar die moeite werd.

Die Oes het begin.  Hy laat my by ‘n feesmaal aansit.  My beker loop oor.