Ek en ‘n vriendin kry mekaar vir koffie.  Of altans, ons wou koffie drink maar toe drink ons eerder wyn.  Ons tob oor die lief en leed van die lewe, oor geleenthede, kontrakte en werksmoontlikhede vir die nuwe jaar. Die gesprek maak ‘n wye draai by sosiale media en mense wat oënskynlik dolgelukkig en baie suksesvol op aanlyn platforms voorkom.  Sonder enige probleme,  alle uitdagings ‘uitge-edit’ met ‘n vleiende filtertjie bo-oor alles.

Sosiale media platforms skets daagliks die lewe as opwindend, rooskleurig, positief en vol geleenthede.  Alle uitdagings verdwyn in ‘n oogwink met behulp van ‘n kitskuur, ‘n aanlyn’tool’, ‘n Instagram video of ‘n Facebook artikel.  Resepte en mode kombinasies is maklik te vinde op Pinterest en vir die res van ons vrae bied webinars of aanlyn sielkundige toetse die antwoord.  Daar is meer virtuele gimnasium instrukteurs as plekke om te oefen en ‘apps’ help ons om beter asem te haal of te slaap.  ‘n Bankbestuurder wat enige kliënt van aangesig tot aangesig kan spreek is klaarblyklik ‘n uitgestorwe spesie en ons is totaal en al uitgeput wanneer ons na tien moontlike elektroniese opsies, steeds nie die krag wat onverklaarbaar af is, kan aanmeld by ‘n lewende munisipale amptenaar nie.

Konneksie is net die druk van ‘n knoppie of die ‘swipe’ van ‘n vinger weg.  Daar waar ons alleen sit met ons ‘smartphones’ en ons ‘i pads’, in konneksie met die hele wye wêreld.  En ten spyte hiervan kry jongmense – of ouer mense, nie werk nie.  Werksoek platforms raak ‘n versameling van woorde en vaardighede en poste word weer en weer geadverteer sonder dat ‘n suksesvolle kandidaat gevind word.  Niemand het meer ‘n gesig nie, almal is net ‘n foto, prentjie perfek.

Ek wonder hoe sou die nuwe jaar wees as ons weer mens tot mens konneksies opsoek.  As ons resepte by ons ma’s en oumas en tannies kry, as ons lag vir ons eie diere en kinders se slimstreke.  As ons meer sit in die son en kyk hoe gewone grys duiwe hulle babatjies grootmaak.  As ons elke dag tyd maak vir plat op die gras lê en as ons praat met en luister na regte mense wat by ons is.  Miskien sal ons dan weer die kleur van mekaar se oë sien, of die grys hare wat begin kop uitsteek.  Dalk die aansteeklike energie en lewe in jongmens drome kan voel of die skaars klank van reëndruppels saam-saam op die sinkdak kan hoor.

Ek is so dankbaar vir my vriendin wat iets verstaan van konneksie.  Van saam sit op een bank, saam luister en saam planne maak.  Miskien sal die nuwe jaar nie so moeilik wees nie, dalk sal dit beter wees.  Dalk kan ek en jy saam, die konneksie wees na meer …