Ek ry huis toe. Elvis Blue sing oor die radio: “Hoe mooi kan jou lewe lyk, dis maar hoe jy kyk …”. My vriendin het nou net vir my ‘n baie spesiale verjaarsdag present gegee. ‘n Wit bak met ‘n rooi randjie en pienk-rooi perskes binne-in. Die hele prentjie is mooi. Eenvoudig, maar perfek genoeg vir ‘n boekomslag.

Dit laat my wonder oor eenvoud. En die lewe. Hoe sal die lewe lyk as ons dit met eenvoud benader. As ons minder het in plaas van meer, as ons weggee in plaas van koop? Toe ek klein was kon ek perskes pluk direk van die boom af in my pa se tuin. Dit was nie deftige winkel vrugte nie, nou eers besef ek hoe groot was daardie geskenk.

Miskien kan ons hierdie jaar anders kyk na Kersfees. Dalk ons geskenke sien en gee in saamsit in die son, saamluister na die reën, saamvoel in die wind deur ons hare, en saamruik aan die geur van die rooiste rooi perskes …